Wie is ons?

Ons is die kankerondersteunings groep in Groblersdal. Die groep is in 1993 gestig deur Mev. Elthea Appelgrein en Mev. Ina Scheepers, saam het hulle begin om hulp te verleen aan ‘n vriendin wat op ‘n jong ouderdom gediagnoseer is met Kanker. Hulle het haar gehelp met daaglikse take en emosionele ondersteuning. Daarna het hulle ondervind dat vele mense hierdie hulp en bystand nodig het.

Hulle het begin om lede te werf wat vrywillig dienste aangebied het en hulp verleen het aan pasiënte. Lede word nie vergoed vir die dienste wat hulle lewer nie, en al ons lede voel dat hulle dit met liefde vir die gemeenskap doen en natuurlik dat dit ‘n opdrag van God is om naastediens te lewer.

Die groep funksioneer interkerklik en bestaan tans uit ongeveer 15 lede onderleiding van Elthea Appelgrein, Stienie van de Venter, Alette O’Connell en Attie Appelgrein.

Wat doen ons?

Die hoofdoel van die Loskop Kankerversorgings Eenheid is om ondersteundende diens te lewer aan kankerpasiënte sover dit moontlik is. Ons lewer hoofsaaklik emosionële, fisiese en finasiële hulp.

Die groep vergader maandeliks om pasiënte se behoeftes en vordering te bespreek. Alle inligting van pasiënte word streng vertroulik hanteer en die privaatheid van elke pasiënt word ten alle tye gerespekteer.

Vrywilligers word verwag om minstens een maal ‘n maand ‘n pasiënt te besoek of te kontak, al is dit net om te sê “ek dink aan jou”. Ons probeer sover moontlik na behoeftes om te sien, al is dit nie onmiddelik opmerkbaar nie.

Wat ons doen met die fondse

Fondse word primêr aangewend in twee afdelings.

1.Toerusting

Fondse word aangewend om toerusting gratis beskikbaar te stel aan pasiënte wat dit benodig. Die volgende toerusting is oor die afgelope paar jaar aangeskaf:

  • Hospitaalbeddens met matrasse

  • Beddens wat kan “tilt” en verstel kan word tydens bedwasse

  • Verskeie rolstoele

  • “Comodes” - met wiele sodat pasiënte bo-oor die toilet gestoot kan word

  • Drupstaanders

  • Kateterstaander

  • Toiletverlengstukke

  • Bedpanne en urinebottels

  • Looprame, badstoele en stortstoele

  • Stuurstofmasjiene en draagbare silinders

2. Finansieël

  • Ons voorsien pasiënte van brandstof geld vir vervoer na hospitale om behandeling te ondergaan soos chemoterapie of bestraling

  • Ons help met bybetalings waar pasiënte se mediesefondse uitgeput is of pasiënte nie ‘n mediesefonds het nie

  • Ons betaal vir doktersbesoeke indien pasiënte nie ‘n mediesefonds het nie

  • Indien pasiënte genoodsaak is om vir ‘n tydperk in Pretoria te bly weens behandeling betaal ons vir verblyf by Tipuana, ‘n Kankertehuis waar pasiënte oorslaap en van twee maaltye per dag voorsien word

  • Ons betaal vir vervoer na die hospitaal vanaf Tipuana en weer terug

  • Ons het ‘n rekening by ‘n plaaslike dokter in Groblersdal waar pasiënte sekere medikasie en voedselaanvullings kan bekom